Product Description
Mentje - Kind van die pas-opkamp
Author: Irma Joubert
Format: Paperback
Die Here, Pappa se Hemelse Vader, het saam met Pappa verdwyn. In hierdie tent vol mense is sy stokalleen. “Ek is net maar hier, dink Mentje. Net maar nog ’n mond wat moet kos kry, nog ’n lyf wat gewas moet word, nog ’n asem in die hut. Nog ’n kind.”
Die Tweede Wêreldoorlog in al sy hebsug en barbaarsheid breek uit toe Mentje de Vries, ’n Nederlandse oorlogswesie, tien jaar oud is. Sy beland saam met Joodse vlugtelinge in ’n geheime kamp in die Nederlandse woude. Toe die situasie te gevaarlik raak omdat die Duitsers die kamp enige dag gaan ontdek, moet sy vlug na familie in Arnhem, maar daar is sy ook nie welkom nie. Sy moet veg om oorlewing tydens die Slag van Arnhem en gepaardgaande Honger Winter van 1944 - 1945.
Byna aan die ander kant van die wêreld, in Suid-Afrika, sluit Tinus van Jaarsveld as ’n valskermsoldaat by die Britse Leër aan. Dit is nie soseer trou aan die Britse Ryk wat hom daartoe dryf nie, maar die vergoeding wat hy daarvoor gaan kry, want hy wil die Van Jaarsvelds se familieplaas terugkoop. Toe hy by Arnhem gewond word, stel Mentje haar lewe in gevaar om hom te red.
Ná die oorlog laat kom Tinus haar na Suid-Afrika en sy moet aanpas by nuwe omstandighede, midde-in drie geslagte van die verskeurde Van Jaarsvelds. Verlies en versoening, mensliewendheid en vergifnis is die kamerade wat Mentje en Tinus deur beproewende tye dra.
Irma Joubert is ’n geliefde naam in historiese fiksie. Al haar vorige romans was topverkopers en met Mentje, kind van Pas-Opkamp sit sy hierdie tradisie voort.
About the Author
Irma Joubert is gebore en getoë in die Bosveld (Nylstroom) en het aan UP studeer. Sy het vir 35 jaar onderwys gegee (Afrikaans en Geskiedenis vir senior sekondêre leerders) voordat sy einde 2004 afgetree en begin skryf het.
Sy publiseer verskeie artikels en kortverhale in tydskrifte en word in 2005 aangewys as Media24 se “Spesialis Joernalis van die Jaar”. Beide haar Tussen stasies-trilogie en haar Pontenilo-trilogie, asook die eerste boek van haar Oorlogstrilogie, naamlik Immer wes, is in Nederlands vertaal waar dit telkens onder die topverkopers tel.
Vier van haar boeke is reeds in Duits vertaal en HarperCollins in Amerika het The girl from the train (Tussen stasies) in 2015 wêreldwyd bekend gestel. Irma se stokperdjies is lees en kook, veral buitelug kokerasies.
Haar gunsteling vakansieplek is die boendoes: woestyn-boendoes, Transkei-boendoes, Bosveld-boendoes, Afrika-boendoes.
For custom orders and quotes: shop@schoolspace.co.za
This product description is the exclusive intellectual property of the publisher, protected under copyright law. Unauthorized use, adaption, or copying is strictly prohibited. © 2026 Schoolspace