Product Description
Kainsmerk
Author: Annelie Botes
Format: Paperback
Annelie Botes het haarself oor en oor bewys as een van die voorste storievertellers in Afrikaans. Die korpus boeke wat uit haar pen verskyn het, staan onweerlegbaar as getuienis van ’n uitsonderlike talent. Deur die jare is ’n magdom tydskrifverhale, ’n genre wat dikwels verkeerdelik onderskat word, in tydskrifte soos Vrouekeur, Rooi Rose en Huisgenoot opgeneem.
Kainsmerk bevat ’n keur van dié verhale wat deur die skrywer self uitgesoek is. Botes se karakters dra dikwels ’n teken van vervloeking wat hulle broos laat, en wat hulle vir die wêreld wil verberg. Isabella se ouderlingman verrinneweer haar en sy begin drink. Sy droom van ’n dag waarop sy haar man se lyk in die put op die plaaswerf kan afgooi. Magdaleen bou ’n padstal en werk haar tot eelte terwyl sy haar man afskeep.
Totdat sy en haar regterhand Kaatjie tydens ’n vloed op die dak van die padstal vasgekeer word. Dalena, het geen behae in haar huwelik nie, maar een nag tydens ’n plaasaanval raak sy en haar man nét op mekaar aangewese. Sophia, ’n huishoudster wat tronkstraf vir diefstal uitgedien het, begin werk vir ’n hoogaangeskrewe man met ’n rare obsessie.
Marianna laat haar dominee-man agter en gaan soek rus en heling in ’n grot op haar geboorteplaas. Hierdie is maar enkele van die karakters waarmee Botes Suid-Afrikaanse tydskriflesers deur die jare meegevoer het. As spesiale bonus is die immergewilde “Duiwelsbrood”, wat geruime tyd reeds uit druk is, ook in Kainsmerk opgeneem. Annelie Botes se aanhangers sal saamstem: Hierdie is vertelkuns op sy beste.
About the Author
Annelie Botes (28 Junie 1957–12 Desember 2024) was een van Afrikaanse se gewildste roman-, kortverhaal-, reis- en rubriekskrywers. Romans soos Trippel sewe, Klawervier, Raaiselkind, Thula-Thula, Swart op wit en Katvis het uit haar pen verskyn. Sy het vir meer as twee dekades rubrieke vir verskeie publikasies gelewer. Annelie se werk is wyd vertaal en verskeie literêre pryse is aan haar toegeken
For custom orders and quotes: shop@schoolspace.co.za
© 2026 Schoolspace. This product description is the exclusive intellectual property of the publisher, protected under copyright law. Unauthorized use, adaption, or copying is strictly prohibited.